Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Sunday, 04 January 2009

Kameraad Carl Niehaus se liegstories (blog entry in Afrikaans)

Ek het Kameraad Carl Niehaus, professionele liegbek en ANC-segsman, se blog-inskrywing vanoggend met geweldige irritasie gelees, maar komende van wie dit kom, nl iemand wat oa glo een aand deur 20 mans in 'n tronksel verkrag is, maar dan misterieus die volgende dag in 'n hofsaak geen dooie woord daaroor gerep het, en g'n klag daaroor gelê het nie, of enige opsigtelike tekens daarvan getoon tydens sy verhoor nie, moet mens noodwendig sy liegstories met 'n groot sak sout opneem.

Gelukkig het die waarheid 'n manier om dikwels na vore te kom, en kan denkende mense die verskil tussen propaganda en liegstories vir hulself eien. Die volgende bevat regstellings oor enkele leuens wat dikwels oor ons geskiedenis gebesig word.

Mens kry dikwels die indruk dat die "inheemse" swart bevolking van Suider-Afrika een of ander idilliese bestaan gevoer het, totdat die "wrede" blanke koloniseerders die sosiale orde kom "ontwrig" het en die "paradys" kom "versteur" het.

Kom ons kry enkele van die feite reg:

1. Die Europese setlaars - jou en my voorsate - was geensins die eerste of enigste setlaars van Suider-Afrika nie. Alle swartes - Zoeloes, Tswanas en Xhosas - is almal insgelyks setlaars, net soos jou en my voorouers setlaars was. Die enigste waarlik inheemse inwoners van Suider-Afrika was die San mense; die voorouers van die Boesmans en Hottentotte. Swart stamme het uit Sentraal- en Wes-Afrika na Suider-Afrika gemigreer. Al verskil is hulle was effens vroeër aankomelinge, maar immigrante en setlaars, dié was en is hulle beslis.

2. Blankes was nie die enigstes wat sogenaamde grondroof gepleeg het nie. Die oorspronklike San-mense se grondgebied is op grootskaal deur die bostaande immigrante uitgewis en van hulle gebiede ontneem. Voorts is baie van die blankes se grond, anders as swartes s'n, op vreedsame wyse deur onderhandelings bekom.

3. Die swart volkere het nie in een of ander idilliese toestand van medemenslike liefde geleef voor die aankoms van blankes nie. Inteendeel; die Zoeloes het tussen 1800 en 1830, SONDER BLANKE HULP, 'n grootskeepse veldtog van volksmoord, bekend as die Mfekane, geloods, wat gelei het tot die dood van tot 'n halfmiljoen ander swartes, volgens sommige bronne. Kwalik 'n Tuin van Eden, kwalik tekenend van die mitiese liegspul bekend as "Oeboentoe."

4. Daar was (en is inderdaad vandag steeds nie in die meeste van Afrika, insluitende die eenpartystaat bekend as Suid-Afrika nie) g'n sprake van "demockracy" voor 1652 nie. Daar was spesifiek nie verkiesings, 'n regstaat, voor blanke kolonisering nie. Die regeringsvorm was die diktatorskap van 'n hoofman, en dikwels 'n uiters gewelddadige een, soos Sjaka s'n. Die eerste keer dat die meeste swartes stemreg verkry het, was ironies genoeg tydens die apartheids-era, toe swartes vir tuislandleiers kon stem. Dis dus nie die "wrede blankes" wat swartes van hulle stemreg ontneem het nie; dis eerder blankes wat swartes bekendgestel het aan die konsep van die demokrasie.

5. Anders as Max du Preez se liegstories oor sogenaamde swart beskawings voor blanke kolonisering, was daar niks van die aard nie; nie die geskrewe woord, die wiel, skarniere, of inderdaad enige gevorderde tegnologie in Afrika suid van die Sahara vóór 1652 nie. Enige literatuur aan die Ooskus van Afrika was van Arabiese afkoms; Thabo Mbeki se sogenaamde universiteit, waarop hy so trots is, was volledig van Arabiese herkoms, en vir millennia het swartmense soos die Zoeloes na die see gestaar sonder dat die gedagte by hulle opgekom het om 'n skip te bou.

Kortom - die meeste van die liegstories wat deur narre soos Kameraad Carl en voormalige KP-lede, oa diegene wat deesdae glo ANC-lede is maar destyds verregses was, gebesig word, is net dít; liegstories, hemelbeeste en fantasieë. Dis propaganda en naakte leuens, ewe geloofwaardig as sprokies oor Sinterklaas of die Paashaas. Dis hoogstens ligte vermaak, iets om oor te lag, wat opgeneem hoort te word met inagname van die motiewe van dié wat dit skryf: apologete vir een van die mees misdadige en korrupte regimes op aarde.
blog comments powered by Disqus
free counters Afrigator