Ons as Suid-Afrikaners ly dikwels onder die illusie dat ons op 'n manier uitsonderlik is, of op spesiale behandeling geregtig is. Daardie gevoel was veral sterk kort ná 1994, toe almal met sterretjies in hulle oë hoog opgegee het oor die sogenaamde wonderwerk van die reënboognasie.
Vandag raak dit toenemend duidelik dat die wonderwerk niks van die aard was nie. Die land is een van die mees gewelddadiges op aarde. Eskom het aangetoon dat Afrika se kenmerkende disintegrasie ook in SA gaan plaasvind. Daar is geen politieke toerekeningsvatbaarheid nie, presies nes in die res van Afrika. Die wonderwerk was nie die kapitulasie by Codesa nie, maar eerder dat ons so naïef kon wees om ons te verbeel dat SA nie bloot nóg 'n tipiese Afrikaland sou word nie.
Diegene wat as die verlossers van die massas aangesien is, het heel voorspelbaar geblyk 'n blote versameling korrupte kleptokrate te wees, wat slegs daarop uit is om hulself te verryk. Hoe kon ons so dom wou wees om in 1992 ja te stem, net sodat ons uitgelewer kon word aan 'n bende terreursaaiers en misdadigers? Wat het ons gedink gaan gebeur?
Nietemin probeer mense hulself steeds (of is dit al hoe meer) oortuig dat Zimbabwe homself nie in Suid-Afrika kan herhaal nie. Hier het ons byvoorbeeld weer die verbete poging om onsself te oortuig dat Suid-Afrika ánders is. Ek is bevrees ek deel nie heeltemal in hierdie oortuiging nie. Die opskrif van my inskrywing verwys na die Amerikaanse stad Houston.
As die meeste mense aan groot Amerikaanse stede dink, sal New York of Los Angeles by hulle opkom, maar nie noodwendig Houston nie. Houston is 'n groot stad, geen twyfel nie, maar hy is nie bo-aan mense se denke oor Amerikaanse stede nie. Nietemin is die metropolitaanse gebied van Houston se bruto binnelandse produk groter as die hele Suid-Afrika s'n.
So ook is Wal-Mart, Amerika se grootste winkelgroep, se omset veel groter as Suid-Afrika se ganse BBP. Soos een ou dit 'n tyd terug pikant aan my gestel het, Suid-Afrika is in internasionale terme 'n drol wat in 'n pispot onder 'n bed dryf in een van die huis se slaapkamers - onbenullig. Om ons te verbeel dat 'n gewelddadige rewolusie, 'n Zimbabwiese situasie of selfs 'n rasse-oorlog in Suid-Afrika onmoontlik is, is dus totale wensdenkery. Daar is reeds skrikwekkende voorbodes.
Die minagting wat die ANC tans vir die oppergesag van die regbank toon met die Jacob Zuma-aangeleentheid, is een voorbeeld. Die toenemende anti-blanke, Marxistiese retoriek gebesig deur die ANCYL is nog een. In hierdie uitlating is die verwysing na die DA wat elimineer moet word, uiteraard 'n kwalik-bedekte dreigement teen blankes as geheel.
Rewolusies en burgeroorloë vind plaas in ryker en belangriker lande as Suid-Afrika. Kyk wat het in 1989 met die Sowjet-Unie gebeur. 'n Ysingwekkende gedagte is ook dat die buiteland nie sal ingryp totdat dit te laat is nie. Vier miljoen is dood in Rwanda en Burundi in 1994 voordat die buiteland iets begin doen het.Die ding wat my die meeste bekommer, is of diegene soos wat nog nie geëmigreer het nie, soos ek, nie 'n groot fout begaan het, en dit te lank uitgestel het nie.
Ek begin toenemend dink ons is potpaddas, wat gewag het tot die water te warm geraak het voordat ons lewe gekry het.
Wednesday, 30 July 2008
blog comments powered by Disqus
Subscribe to:
Post Comments (Atom)